GESKIEDENIS VAN
TURNER & HAUPT….
In 1891 was daar hongersnood in Rusland en 'n
verwoestende aardbewing in Japan.
In die VSA word die ritssluiter vir die eerste keer gepatenteer. In
Suid-Afrika vind onder andere twee historiese gebeurtenisse plaas: die
eerste rugbyvoetbalspan uit Engeland kom teen Suid-Afrika speel, twee
toegewyde dopelinge van Charles Haddon Spurgeon uit Norwich, Engeland sit ook voet aan wal in
die Kaap.
Die twee broers, Fred en Jack Turner, wou 'n eerbare
bestaan en toekoms soek in die land. Die ontdekking van goud en diamante
het aan baie mense werk en nuew hoop op tydelike gebied gegee. Hulle het
ywerig na werk gesoek. Fred was doof en kon nie permanente werk op die
goudvelde kry nie. hulle het toe met die "Bybel in die hand" hul
nuwe vaderland ingetrek om sodoende die Goeie Boodskap van ewige hoop te
bring aan mense wat swaar geleef het - veral in die onherbergsame
binneland.
In Fred se eie woorde (1892) in 'n brief aan die
Bybelgenootskap in Londen gee hy agtergrond en dryfveer van hul reis na die
Noorde: "Having travelled along the railway line, working the
different villages and towns from Cape Town to Johannesburg, it was my
heart's desire to take the Word of God into the homes of the farmers and
different places where it was difficult for them to obtain a Bible for love
or money!"
Die Turner-broers se strewe was diens aan die
Suid-Afrikaners wat daardie tyd gesmag het na kennis. Weereens in Fred se
woorde: "(We are)... taking the Bible from farm to farm through this
vast region but also other literature and thereby helping the cause of
education and Christian Knowledge, for which we have given up, as you
already know, all other prospects, and are giving our all cheerfully to the
work!"
Dit is hierdie toewyding aan diens aan die
gemeenskap en pioneersywer wat gesonde groei gewaarborg het toe Fred Turner
in 1894 'n een-vertrek winkeltjie op Loeriesfontein opgerig het. Sy
lewensfilosofie was gesond: 'n Mens gee nie iets van waarde verniet weg
nie! Die ontvanger voel beledig en verneder! Dit is veral van toepassing op
die Bybel as 'n boek wat deur die mens aangeskaf, gelees en begryp moet
word. Met hierdie lewensbenadering was Fred Turner 'n waardevolle
medewerker van die Bybelgenootskapbeweging wat toe reeds meer as 'n halwe
eeu in Suid-Afrika werksaam was.
Die Turner-Haupt geslagte het in hul dienswerk aan
die gemeenskap van Loeriesfontein oor die afgelope eeu in woord en daad ook
goeie mense verhoudinge uitgeleef.
In 1897 is die Engelssprekende Fred Turner getroud
met Hester Cecelia Wilhelmina Lombard, 'n Hollands-Afrikaanse boorling uit
die boeregemeenskap van daardie gebied. Hulle het elkeen sy eie taal
lewenslank gehandhaaf. Agt kinders is uit hul huwelik gebore. Die oudste
seun Ernest (Christoffel Ernest) gebore 1899 en dogter Bobby(Hester
Roberta) gebore 1900 was aktief in die winkelbesigheid, FE Turner and Son.
Ernest het ook smoushandel gedryf in die distrik. In 1923 is Bobby getroud
met Nico (Nicolaas Gabriel Haupt) 'n boorling van Porterville se wereld, werksaam in 'n
winkel op Granaatboskolk. Uit hul huwelik is ses kinders gebore.
In 1928 trou Ernest met Ettie (Andrietta Anna du
Toit) 'n boorling van Middelburg, Kaap. Hulle het vier kinders.
In 1953 stig die twee swaers, Ernest en Nico die
privaat maatskappy TURNER & HAUPT (Edms) Bpk.
Die familie-tradisie leef steeds voort. Dit wortel
stewig in die lewe en werk van gelowige Bybelkolporteur Fred Turner (Uncle
Fred) wat 100 jaar gelede blywende baanbrekerswerk gedoen het.